Thursday 1 January 2004

Haartjie

Daar was eendag ‘n dametjie in ‘n ver ver land, sy het graag gaan speel saam met die seuntjies van die stad. Wild en wakker, avontuurlustig en lewendig, dit is hoe sy was. Sy het gehou van klere soos broeke en hempde en wou nooit rokke, frilletjies en hoë-hakskoene dra nie. Dit was vir haar ’n straf!
Haar ma het natuurlik gewens sy wil net meer verfynd wees en het gereeld vir haar sykouse en valletjierokke en rompe gekoop, sy het dit verpes. Haar ouma was die ergste, sy het letterlik die tipe goed in haar keel afgedruk en vir haar goed gesê soos: “ seuns hou nie daarvan as meisies hulle wen in sport of dinge soos bergklim nie, hulle wil hê die meisie moet sagter en fyner wees en toelaat dat hulle haar ophelp by groot klippe en berge.” Sulke tipe tjol het sy kwyt geraak, asof sy alles van verhoudings geweet het. Dieselfde ouma wat haar ma met elektriese drade geslaan het omdat sy op skool met seuns gepraat het – mal vrou!!! Haartjie het nie veel daarvan gedink nie, ook nie veel van haar ouma nie. Sy het haar later begin verpes en wou niks met haar te doen gehad het nie.
Die einde van haar ouma se groot indringery in haar sogenaamde verfynde vroulike opvoeding het gekom toe sy eendag in haar veertiende jaar ’n brief van ouma ontvang het. ’n Niksseggende brief oor die algemeen, maar die kern van die hele briefoperasie was om vir Haartjie te sê dat ouma haar die wonderlikste groot guns gaan bewys deur vir oupa te vra om ’n paar randjies van hul karige pensioen aan haar af te staan om spesifiek ’n valletjiesrokkie, ’n paar sykouse en ’n paar pragtige hofskoentjies vir Haartjie aan te skaf – vir wat op die aarde dit op daardie stadium sou nodig wees weet die Here alleen, daar was nie eers ’n groot toedoe oppad waarvoor die klere miskien nodig sou wees nie en liewe ouma het mos geweet dat dit presies die klere is wat Haartjie se haartjies laat rys.
Haartjie se ma het gesê dat sy maar ’n briefie sal moet terugskryf, dit is tog haar plig as kleindogter, maar sy het gevra dat sy dit tog asb. eers kon lees. Haartjie het ingestem. Op die ou end moes sy die brief drie keer oorskryf en haar ma het gesê dat dit steeds baie hard is. Haartjie se reaksie daarop was dat die brief sò gestuur word of dat hy glad nie gestuur word nie, want soveel tyd en energie gaan sy nou nie op haar geliefde ouma mors nie. Die brief is op die ou end so gestuur en Haartjie het nooit weer gehoor van frilletjierokke, sykouse of hofskoentjies van haar ouma af nie. Nooit weer nie.
Haar ma het naderhand besef dat daar nie salf te smeer is aan die dogter van haar nie en het begin cool down en haar meer geleentheid gegee om haar eie besluite, onder baie invloed van moeder, te neem. Dit het dinge ’n bietjie beter gemaak.